Lydenstyd

Weereens bevind ons onsself in lydenstyd, een van die belangrikste gebeure op die Christus kalender. 
Hoekom die foto van die band? Wel bande op ‘n motor rol jou motor, motorfiets of fiets van jou oorsprong na jou bestemming. 
Wat egter interesant is, is dat ons elke dag vertrou/glo dat ons bande reg is en sonder om te kyk spring ons in die motor en ry.
Van tyd tot tyd kry ons ‘n pap of ‘n gebarsde band, wat ons laat stop om dit te herstel voordat ons weer aangaan. 
Net so gebeur dit in ons geloof ook. Ons is oppad na die ewige lewe maar van tyd tot tyd kom iets oor ons geloofspad wat ons tot stilstand ruk van skok, teleurstelling, angs en hartseer ens.
Net soos met die motor se pap wiel,  stel ons ondersoek in oor wat gebeur het, wat ons kan doen om dit te vermy.  In die aanloop tot lydenstyd is dit tyd vir ondersoek. Wat het ek met my lewe gedoen? Loop my geloofsband nog in die regte rigting? Vertrou ek ten volle op die Here soos wat ek daagliks doen met die bande op my motor? 
Gebruik ek my handleiding (Bybel) om die beste roete te bepaal vir my bestemming – die ewige lewe?
Omdat so baie mense die eind bestemming roete verloor het, het God die Vader vir ons Jesus Christus,  aarde toe gestuur om al die pyn, hartseer op Hom te neem.
Lees Joh 3:16 en herbesin oor wat die afgelope jaar in jou lewe gebeur het. Dank God vir die hartseer en die vreugde tye wat Hy by jou was.

Voetspore

Almal van ons het ‘n  unieke padjie wat ons deur die lewe stap. Op die pad laat ons “spore” na , wat mense om ons sien. 
As jy terugkyk na die padjie wat jy tot dusver geloop het , kom die volgende vrae op:

  • Wat is die  algemene rigting van jou spore, is dit na Jesus?
    Het jy op die pad wat jy tot dusver in die samelewing geloop het, pyn veroorsaak deur iemand “raak te trap?”
    Indien jy iemand raakgetrap het, wat het jy gedoen om die pyn te verminder of weg te neem?
    As iemand jou “raakgetrap” het, hoe het jy reageer? Is jou reaksie in lyn met jou Christenskap, “draai die ander wang” of koester jy ‘n wrok?
    Het jy jouself al in die ander persoon se skoene probeer plaas om uit te vind hoe hy/sy voel? 
    Met die begin van die nuwe jaar is daar ‘n paar wyshede om aan vas te hou:
    Jou werk sal nie na jou omsien as jy siek of oud is nie, jou familie en vriende sal.
    Maak vrede met die verlede, en vergeet daarvan, sodat dit nie jou toekoms beinvloed nie.
    Jy is self in beheer van jou geluk, en het dus ‘n keuse.
    Vergewe en vergeet altyd. Moenie dat ongelukkigheid jou gevange hou nie.
    Maak nie saak hoe sleg dinge lyk nie, dit sal verander.
    Onthou jou kinders beleef net een maal hulle kinderlewe, maak die beste daarvan, wees daar vir hulle!
    Kyk om na jou ouers, hulle het jou meestal gebring waar jy vandag is.
    Onthou wonderwerke gebeur nog elke dag om ons, jy moet net beter kyk en nadink oor die lewe.

Die boonste wyshede getuig van liefde vir die Here en vir my naaste. Kyk na die volgende verse in die Bybel:
Matt 19:19
Matt 22:39
Gal 5:14
Mark 12:31
Lev 19:18


Waarheen Nou ?

Ons nader weer die einde van die jaar, waar so baie skoolkinders onder druk is met die matriek eind-eksamen. ‘n Tyd waar ouers, die onderwysers en familie so druk uitoefen op kinders om hulle beste te lewer.

Soos in die foto  voel ek as kind soms totaal alleen in my strewe om te voldoen aan my ouers / onderwysers se doelwitte.  Party keer raak alles net te veel om te hanteer!  Is jy een van daardie kinders? 

Maak nie saak hoe donker dinge om jou raak nie, daar is altyd hulp – soos op die foto,  lig in die duister.
Kom ons kyk wat sê die Bybel vir ons:

In Fillipense 4:6 lees ons
Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend.

In Romeine 12:12 lees ons
Verbly julle in die hoop, staan vas in die verdrukking, volhard in gebed.

Daar is ook jou leraar of ‘n vertroueling waarmee jy kan praat.
Sterkte aan al ons matrieks van 2017!

My Karakter

Waarheen is die Here met my oppad?  Hoe lyk my karakter vir die Here en vir die mense om my?

As ons na die foto kyk, is die beeld wat ons kry, iets van verwondering en ongeloof,  oor hoe die water oor duisende jare die gate uit die rots gekerf het. U sal miskien vra wat het dit met my karakter te doen?

Wel ons bid baie keer dat dit of dat moet gebeur, maar helaas vind ons dat ons lewe ‘n totale ander pad loop!  Daar is nie verniet ‘n spreekwoord wat sê “Die mens wik maar God beskik” nie. Die Here laat baie keer dinge toe in ons lewe, om ons karakter te bou en om ons bruikbaar te maak vir Sy werk. Die Heilige Gees werk dus deur  ons om die volgende gawes te verbeter:

Liefde, Vreugde, Vrede, Geduld, Vriendelikheid, Goedhartigheid, Getrouheid, Nederigheid en Selfbeheersing.

Party keer worstel ons deur pyn, deur hartseer en ons vra telke male, Waarom Here? Al ooit daaraan gedink dat die Here in Sy wysheid jou wil gebruik om te getuig hoe jy, Sy liefde en ondersteuning ervaar het deur die tyd?

Wend dus daagliks ‘n poging aan om in jou werk en wandel te getuig van Sy dade, want dit is ook een manier om dissipels te maak vir Hom, soos wat Sy word ons vra.

Soos in die foto kerf die Here die gedeeltes in ons karakter wat nie vir Hom aanneemlik is nie, weg en maak die goeie gedeeltes meer prominent.

Lees Galasiërs 5:25