Advent ‘n tyd van verwagting en voorbereiding

Advent begin op die vierde Sondag voor Kersfees en duur tot en met Oukersaand. Advent is deel van die Kers-siklus en ook die begin van die Kerkjaar.

Geskryf deur:
Ds Servaas de Kock

Die begin met hoop en afwagting tydens Advent en loop uit op vreugde met Kersfees en sluit af met Epifanie. Advent begin op die vierde Sondag voor Kersfees en duur tot en met Oukersaand. Advent is deel van die Kers- siklus en ook die begin van die Kerkjaar. Die begin met hoop en afwagting tydens Advent en loop uit op vreugde met Kersfees en sluit af met Epifanie. Advent is ‘n tyd van verwagting en voorbereiding op Christus se koms. Die woord Kers-siklus Advent is afgelei van die Latynse woord adventus wat “koms” beteken.

Dit is ‘n tyd van herinnering aan die beloftes van God oor die Messias wat sou kom, maar ook ‘n tyd van verwagting van Jesus se wederkoms. Gedurende hierdie tyd vier ons God se ingryping in die geskiedenis deur die geboorte van Christus. Ons vertrou dat God dit wat begin is met Christus se eerste koms, sal voltooi met Christus se wederkoms. Advent fokus op die feit dat ons tussen die tye van Christus se eerste koms en Sy wederkoms leef en dit behoort ons leefwyse te bepaal. Dit is ’n tyd van afwagting en verwagting, maar ook ’n tyd om aktief God se liefde in die wêreld uit te leef. Die tradisionele kleure wat in Advent gebruik word is koningsblou, wit en goud. Dit is koninklike kleure en verwys na die majesteit van die Seun van God.

Tradisioneel het die 4 weke temas: Die eerste week se tema is verwagting/hoop. ‘n Tyd van hoop waar ons herinner word dat die pyn, seer en swaarkry wat ons nou beleef aan die verbygaan is. Christus het gekom en sal weer kom. Die tweede week se tema is vrede. Die engele het Jesus se koms aangekondig met die lied “Vrede op Aarde”. Ons beleef Jesus se vrede en deel dit met elkeen wat op ons pad verskyn. Die derde week se tema is vreugde. Ons dink in die eerste plek aan die vreugde wat ons kan beleef omdat Jesus gebore is en tweedens dink ons ook na oor watter dinge vir God vol vreugde maak. Vreugde is nie omstandigheidsgebonde nie en laat ‘n lig in die donkerste nag skyn. Die vierde week se tema is liefde. God se koninkryk van liefde het gekom, maar is nog nie ‘n voltooide realiteit nie. Ons moet ander vertel wat Kersfees vir ons beteken. In die tweede plek moet ons vir die wat swaarkry, gee.

Die liefde van Jesus dring ons om vir ander te gee in ‘n hedendaagse Kerstyd waarin mense net wil ontvang. Die voorbereiding en wagtyd is verby. Kersdag vorm die hoogtepunt en afsluiting van Advent. Jesus, die Lig vir die wêreld is nou vir altyd by ons en die wete dring ons om self ook ons lig in die wêreld te laat skyn.