Voetspore Gids
Die Voetspore gids vertel ‘n besondere verhaal van hoe en waar ons as gemeente Jesus-spore in die gemeente en gemeenskap wil bly trap. Want kerk van die Here wees is net so nodig vir die wêreld waarin ons leef as wat dit was op ‘n Sondag 2000 jaar gelede toe Petrus deur die Heilige Gees die eerste Jesus-gemeente in Jerusalem gestig het.
Voetspore van liefde
Só leef God se gemeente – om dieper te groei, nader te behoort en verder te dien.
Die gemeente van God in Randburg wil gedurig onderskeidend en gehoorsaam bly luister na hierdie opdrag en belofte van Jesus Christus … want op dié manier bly ons Sy voetspore van liefde trap … in ons groei in die geloof, in die manier waarop ons aan mekaar behoort en op al die terreine waar ons as gelowiges diens lewer …

Die gemeente bied verskillende geleenthede waardeur lidmate van alle ouderdomme kan bly groei in hulle geloof om as God se kinders tot Sy eer te bly lewe …
- Die weeklikse Sondagdiens om 09:00 is ‘n eietydse gebeurtenis waar die Woord, verskillende vorme van aanbidding musiek saam met gepaste simbole en geloof gewoontes ‘n besondere tyd van ontmoeting met God en mede-gelowiges skep.
- Die Woensdag-Woordgroep – 9:30 by die kerk – is ’n geleentheid vir geestelike groei en gemeenskap van gelowiges. Daar is altyd ruimte vir lidmate wat wil aansluit of nuwe groepe wil vorm.
- ‘n Gebedsbediening skep deur ‘n gebedsketting en ander aksies plek vir saambid en voorbidding doen vir verskillende sake en mense. Marisa Combrinck (082 823 8654) neem die leiding hierin.
- ‘n Musiekgroep sowel as ‘n sanggroep gee hulle gawes in diens van die gemeente se aanbidding. Lidmate wat bedrewe is met musiekinstrumente of lief is vir sing kan hierdie groepe versterk. Siegfried Pretsch (082 448 9534) is as orrelis hiervoor verantwoordelik.
- Ouderdoms-gerigte jeugaksies wil kinders in die geloof help groei. ‘n Kleuter- en kleinkerk vir die jonger kinders vind tydens die erediens plaas. Groter kinders se kategese klasse volg die weeklikse Woord-tema van die gemeente en vind soms tydens die erediens plaas. Die verhouding tussen kategete en kinders is baie kosbaar en byeenkomste word gesprek matig ingerig. Jolene de Kock (083 379 7709) is verantwoordelik vir die leiding en beplanning van hierdie werk.
- ‘n Inspirasie-dag in September maak ruimte vir lidmate se uiteenlopende behoeftes en wil elkeen beter toerus om getrou en bruikbaar as Christene in die wêreld te leef – te midde van moeilike omstandighede en groot uitdagings.

Die vrede wat Christus vir gelowiges deur Sy verlossing gebring het vind uitdrukking in die manier waarop lidmate in liefde aan mekaar behoort in die gemeente …
- Verskillende omgeegroepe wat lidmate se lewensfase in ag neem leef die gemeente se roeping van groei, sorg en dien uit. Weeklikse of twee-weeklikse byeenkomste skep ‘n ruimte waar daar saam gepraat en gebid word, na mekaar geluister word en hande gevat word om by ‘n diens projek betrokke te wees. Die kerkkantoor sal graag meer inligting oor die profiel en tye van die groepe verskaf.
- ‘n Groot aantal lidmate is deel van geografiese sorg-groepe waar sorg-leiers met kwartaallikse Kontakweek en op ander maniere die band tussen gelowiges bly versterk. Die noodsaak vir lidmate – wat oor ‘n besonder wye geografiese gebied versprei is – om aan mekaar te behoort bly vir die gemeente ‘n prioriteit.

Die liefde waarmee ons as God se kinders geseën word bring die nuwe Christus-geaardheid om te wil dien … of dit in die gemeente, die bekende omgewing of selfs baie ver is …
Die gemeente is betrokke op verskillende terreine – op ‘n direkte manier deur lidmate wat tyd, gawes en fondse gee vir spesifieke projekte of in vennootskappe met ander kerke en organisasies wat op terreine werk wat ons na aan die hart lê. Elke aksie bied ruimte vir lidmate om dadelik op verskeie maniere betrokke te raak. Die kerkkantoor het die kontakbesonderhede en meer inligting oor al hierdie projekte.
- Bybels word deur ‘n subsidie-stelsel teen ‘n bekostigbare prys in ‘n verskeidenheid tale beskikbaar gestel stel sodat lidmate dit oral kan versprei. Die kerkkantoor koördineer tans hierdie projek.
- Help die Kind is ‘n aksie wat Hoërskool Randburg en Sharonlea Primary maandeliks ondersteun om behoeftige kinders te versorg.
- Ekklesiapark Tuiste vir Bejaardes word met bydraes en hulp ondersteun om die verblyf vir bejaardes meer aangenaam te maak.
- Bejaardesorg in die gemeente geskied deur ‘n “aanneem-aksie” sodat ouer mense met spesifieke behoeftes deur ander lidmate versorg word. Die Lekkerkuier-klub hou gereeld byeenkomste.
- Emmers Vol Liefde (www.emmersvolliefde.co.za.) is ‘n projek wat verwaarloosde bejaardes in die groter Wesrand-area versorg. Hulle aanvaar skenkings soos klere, kos en enige huishoudelike artikels. Betsie Stokes (082 684 9974) is die kontakpersoon.
- Tutela Linden is die NG Kerk se amptelike welsynsdiens met ‘n kantoor op ons kerk perseel. Die kos spens word gereeld ondersteun. Tweedehandse klere en ander artikels is altyd welkom.
- Kersfees kardoese is ‘n vlagskip-projek waarmee vreugde in soveel as 300 mense se lewens gebring word. Die wynveiling in Augustus samel fondse hiervoor in.
- Africa Jesus Africa is ‘n nuwe uitreik-vennoot. Hulle versprei met uitreike in Lesotho lewensvoorraad en die Woord in afgeleë dorpies. Frikkie van Wyk (084 609 3460) is die skakelpersoon.
- Projek Wintersorg probeer om die winter se ontbering vir mense wat deel is van ons vennoot-aksies beter te maak. Die aksie loop oor 5 weke in Mei en Junie en samel ‘n verskeidenheid goedere in.
- Doorway to Dignity is ‘n sambreel organisasie bedryf onder andere veilige skuilings (shelters) in ons omgewing en ander aksies waarmee die gemeenskap se nood aangespreek word. Kontak vir Trevor Webster (065 147 9552) om op ‘n manier betrokke te raak.
Al hierdie Voetspore word deur die Diensgroep Sorg gekoördineer. Pieter Jooste (073 676 0573) is die leier van die groep wat saam met die verskillende sameroepers die aksies uitvoer. Die sameroepers se kontak-besonderhede kan by hom of die kerkkantoor verkry word.