Terugkerende soldate van die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) kry klein staatshuisies op akkers grond in Ferndale. Hulle kom bly tussen ambagsmanne, boere, onderwysers en entrepreneurs. In dié tyd van armoede en werkloosheid lei 3 pioniers, AJ Cruywagen, HJ Claassen en JJP Bierman die geloofsgemeenskap van Ferndale tot afstigting van NG Kerk Linden. Die nuwe NG Gemeente Ferndale – met sowat 450 lidmate en 550 kinders – word op 6 Oktober 1944 in ‘n half-voltooide kerksaal gestig. Die kerkraadsnotule getuig … “Ons glo dat die Here dit so gewil het dat daar so ‘n gemeente in Ferndale moet bestaan.”

Die geskiedenisboeke van die gemeente – wie se naam in 1958 na Randburg verander – vertel verhale van besondere seën en versorging van God wat mense oor ‘n tydperk van meer as 70 jaar in staat gestel het om met geloofsmoed die eise van die tyd te deurleef. Die gees van samewerking en liefde dra die gemeente keer op keer deur moeilike situasies. Tye van ernstige krisisse en finansiële nood word opgevolg met groei en voorspoed. 13 leraars het in die amper 75 jaar in die gemeente gedien: Ds JC Combrinck (1945-1947); ds JP le Roux (1948 – 1952); ds JHN Prinsloo (1953 – 1957); ds JA Hough (1958-1968); ds AWL Smal (1962 – 1963); dr DCG Fourie (1968-1975); dr ACJ Smit (1975-1979); dr AH Botha (1979 – 1982); ds FvZ Louw (1982 – 1995); dr GJ Kok (1991-1994); Ds JO van der Schyff (1995 – 1998); ds SD de Kock (1998 – ) en ds M Steenkamp (2011-2012).

Die eerste saal van die gemeente Ferndale wat vir amper 20 jaar ook as kerkgebou gedien het. Die eerste werklike kerkgebou op die hoek van Hillstraat en Kentlaan word in 1960 feestelik ingewy. Die nuwe kerkgebou van die gemeente op die hoek van Doverstraat en Vinelaan wat in 1990 in gebruik geneem is Die besondere muurpaneel in die nuwe kerkgebou is ontwerp deur Leo Theron.